GEBRUIK EN AFVUUR VAN VUURWAPENS DEUR LEDE VAN DIE CPF:
Ons versoek lede om asb te let
op die volgende reëls rakende die gebruik van
vuurwapens. Daar moet asb streng voldoen word aan hierdie reëls.
Benewens die gemenereg bevat die Vuurwapenwet sekere bepalings aangaande
die afvuur en gebruik van vuurwapens en die rig daarvan.
INTERNE REELS VAN DIE CLYDESDALE CPF:
Alvorens die Vuurwapenwet
bespreek word is dit nodig om die Clydesdale CPF se reëls rakende die gebruik van vuurwapens neer te lê:
Algemene reel:
1. Lede mag
hulle lewens verdedig met ‘n vuurwapen of ander wapen. (Ons
bespreek die beginsels van
selfverdediging later hieronder.)
2. Afvuur van
‘n vuurwapen sonder grondige rede is verbode:
a.)
Lede mag onder geen omstandighede ‘n vuurwapen
afvuur bloot om vermeende skelms (sigbaar of onsigbaar) die skrik op die lyf te
jaag nie. Dit is onwettig selfs al
word dit in die lug of in die grond afgevuur.
i) Omdat dit ‘n misdryf is sal dit ook aan die SAP
gerapporteer word.
ii) Dit sal ook as ernstige wangedrag beskou
word want dit kan ander lede en die publiek laat dink dat op hulle geskiet
word. Benewens die feit dat dit onnodiglik by algemene lede van die publiek
vrees inboesem, kan dit ook gebeur dat ander CPF-lede terugvuur en veroorsaak
dat die CPF-lede op mekaar skiet. Sulke optrede sal as uiters onverantwoordelik
beskou word en skorsing uit die CPF is nie uitgeslote nie.
A. Niemand gewond of gedood nie
b.)
Wanneer ‘n lid op patrollie sy vuurwapen gebruik het
en nie iemand raakgeskiet het nie moet
‘n lid van die bestuur summier en onmiddellik in kennis gestel word. Die lid
van die bestuur sal dan besluit of die diensoffisier van die SAP uitgeroep moet
word benewens enige ander polisie lede (bv sektor voertuig).
c.)
Om aan die Grondwet te voldoen en die regte van die
individu te beskerm (swygreg) sal die lid van die bestuur ook die lid waarsku
dat hy nie verplig is om ‘n inkriminerende verklaring sonder sy prokureur aan
die polisie te maak nie maar dit beteken nie dat die voorval nie
deur bestuur onder die SAPD se aandag gebring sal word nie.
B. Iemand wel gewond of gedood
d.)
Wanneer ‘n lid op patrollie sy vuurwapen gebruik het
en wel iemand raakgeskiet het moet ‘n
lid van die bestuur summier en onmiddellik in kennis gestel word. Die lid van
die bestuur sal dan sonder uitsondering die diensoffisier van die SAP
uitroep benewens enige ander polisie lede (bv sektor voertuig).
e.)
Om aan die
Grondwet te voldoen en die regte van die individu weereens te beskerm (swygreg)
sal die lid van die bestuur ook die lid waarsku dat hy nie verplig is om ‘n
inkriminerende verklaring sonder sy prokureur aan die polisie te maak nie maar
dit beteken nie dat die voorval nie deur bestuur onder die SAPD
se aandag gebring sal word nie.
C. Wanneer op ‘n lid geskiet word
f.)
Wanneer op ‘n lid op patrollie geskiet is moet ‘n lid van die bestuur summier en
onmiddellik in kennis gestel word. Die lid van die bestuur sal dan sonder
uitsondering die diensoffisier van die SAP uitroep benewens enige ander
polisie lede (bv sektor voertuig).
g.)
Lede (ingeslote
lede van die bestuur) is verplig om in so ‘n geval aan te dring dat die polisie
‘n klagte van poging tot moord op die lid oop maak en ondersoek.
3. Rig van vuurwapen of soortgelyke wapen is
verbode
(a) Dit sal as
onvanpas en as wangedrag beskou word as lede sonder baie goeie rede ‘n
vuurwapen of ‘n gaspistool of windbuks of speelgoedwapen wat soos ‘n vuurwapen
lyk op enigeen rig behalwe waar dit abslouut noodsaaklik is om ‘n verdagte wat
‘n Skedule 1 misdryf gepleeg het onder bedwang te bring of in bedwang te hou.
(Ons verwys hier na Skedule 1 van die Strafproseswet.)
(b) Wat is ’n
Bylae 1 misdaad?
Ø Moord,
Ø Poging
tot moord (maar nie gewone aanranding nie);
Ø Verkragting,
Ø Roof (ook
voertuig kaping),
Ø Huisbraak
(blote teenwoordigheid op ‘n erf is nie huisbraak nie);
Ø Dwelmhandel;
Ø Diefstal,
Ø Bedrog,
ens.
Dit is dus net ernstige misdade. (Die lys hierbo is nie heeltemal
volledig nie)
U moet asb nie mense probeer arresteer vir die volgende nie en moet
dus asb nie ‘n vuurwapen hier gebruik nie:
Ø Besit van
dagga;
Ø Betreding
(sonder om in te breek);
Ø Dronkbestuur;
Ø Huismoles;
Ø Gewone
(ligte) aanranding;
Ø Dronkenskap;
Ø Verkeersoortredings;
Ø Vloekery;
Ø Enige
ander geringe oortredings.
(Roep in bg. gevalle die hulp in van die SAP of die Metro Polisie om die
arrestasie te doen of situasie te hanteer.)
4. Vertoon van
vuurwapens of soortgelyke wapen is verbode
Vertoon van vuurwapens of soortgelyke wapens is verbode tensy dit op een
van bogenoemde wettige gronde gedoen word.
WANNEER KAN
LEDE OP ‘N VERDAGTE OF AANVALLER SKIET?
Voorbeeld 1:
Die CPF word in die middel van die nag op kanaal
16 uitgeroep na ‘n huisroof toe. Die familie word aangehou en gemartel deur
gewapende rowers. Een of meer van ons lede daag by die toneel op en daar word
op hom/hulle geskiet. Hulle kan die rower wat op hom/hulle skiet duidelik
identifiseer want hulle is amper bymekaar. Hul sien die wapen in die rower se
hand. Hulle sien nog twee ander rowers ook met wapens in hulle hande. Dit lyk
duidelik dat hulle nie gaan oorgee sonder ‘n geveg nie.
*Kan die CPF terug skiet?
*Kan hulle skiet om dood te skiet?
*Kan hulle ‘n ander rower wat duidelik deel is
van die groep skiet al was hierdie rower nie die een wat op hulle geskiet het
nie?
Die antwoord op al drie vrae is ‘n
onomwonde “JA” want jy is geretig om ‘n ander te dood in selfverdediging en ook
ter verdediging van ‘n derde se lewe.
Voorbeeld 2:
‘n CPF lid word gedurende die nag wakker en hy
kan ‘n vreemde persoon identifiseer wat duidelik moes ingebreek het om daar te
wees. (Hy sien dus duidelik dit is iemand wat nie in sy huis hoort nie). Hy het
geen ander middel om homself te verdedig as om die persoon te skiet nie, want
hy weet dat huisbrekers wat weet dat hy wel in die huis is en daarom gewapen
sal wees. Kan hy die persoon skiet?
Die anwoord behoort “JA” te wees as hy seker
is dit is ‘n inbreker. Hy mag egter nie blindelings deur ‘n toe toilet deur
skiet nie.
Voorbeeld 3:
‘n CPF lid word gedurende die nag wakker en hy sien
‘n vreemde persoon by sy motor onder sy motordak en hy kan sien dis ‘n vreemdeling
wat by sy motor wil inbreek. Kan hy skiet?
Hierdie is ‘n grys area maar dit kan onomowonde
gestel word dat hy nie kan skiet om dood te skiet nie. Dit word nie eens
aanbeveel dat hy na die persoon se bene skiet nie. Hy kan beslis glad nie ‘n
vuurwapen gebruik as dit ‘n blote geval is dat die persoon so pas oor die muur
gespring het nie.
REGSBEGINSELS: SELFVERDEDIGING OF NOODWEER
(“PRIVATE DEFENCE”)
Ons bespreek hier die gemenreg.
Daar is ook ‘n ander geval wat
toepaslik is op die gebruik van ‘n vuurwapen en dit is waar die CPF lid optree as arresteerder (met ander woorde self polisieman
speel), dan is daar ook ander wetlike voorskrifte. (Dit is nou Art 49 van die
Strafproseswet, Wet 51 van 1977 maar dit het bittermin met gemeenregtelike
selfverdediging te doen. Dit is ook ‘n mynveld.)
Ons het hierbo gese dat elkeen volgens
die gemenereg geregtig is om homself te verdedig. Jy mag ook die lewe van ‘n
ander verdedig. Jy mag egter nie iemand dood wat weghardloop nie.[1] Hoekom nie? Want jy het nie
nodig om jouself te verdedig teen iemand wat vlug nie – hy is immers nie meer
‘n gevaar nie.
Die
omstandighede in elke situasie verskil en hierdie verskille kan ‘n fundamentele
invloed hê wanneer bepaal word of die gebruik van ‘n vuurwapen minimum geweld
was of nie. Daar kan daarom nie vooraf gestaaf word dat ‘n vuurwapen in sekere
situasies gebruik mag word nie. Slegs basiese beginsels om te bepaal of gevuur
kan word of nie, kan as riglyn dien.
Goue reël: Jy mag nie meer geweld gebruik as wat nodig is nie.
Ooreenstemmend
met die beginsel van minimum geweld, kan die volgende vrae gevra word: Wanneer,
onder watter omstandighede en op watter wyse mag daar gevuur word?
(a)
Die goue reël bly steeds minimum geweld. In elke situasie moet daar vasgestel
word of daar geen ander uitweg was, behalwe as om te vuur of die persoon te
skiet nie.
(b)
In verband met die gebruik van ‘n vuurwapen, is dit uiters belangrik dat daar
‘n van balans moet wees tussen die misdaad wat gepleeg is en die mate van
geweld wat gebruik is. Jy kan nie ‘n buurman se kinders skiet wat slegs jou
huis met vrot tamaties bestook nie.
(c) Voorbeelde van faktore
wat in gedagte gehou moet word:
(i)
By arres: Wanneer ‘n persoon hom/haar teen arres verset, is die vraag of die
persoon nie oorweldig kon word eerder as om hom/haar te skiet nie.
(ii) NB: Wanneer ‘n persoon gearresteer
moet word, wat is die kans om die persoon te vind indien u hom laat gaan,
eerder as om hom te skiet? (Art 49 van die Strafproseswet geld hier.)
(iii)
Die veiligheid en wenslikheid van waarskuwingskote (om waarskuwingskote in
stedelike gebiede te vuur, word nie aanbeveel nie).
(iv)
Die veiligheid en wenslikheid om ‘n persoon eerder te wond as om ‘n dodelike
skoot toe te dien.
(d)
Die howe het besluit dat dit wettig is om ‘n persoon te skiet in die volgende
omstandighede, onderworpe aan die beginsel van minimum geweld:
(i)
Ter beskerming van lewe:
Die
aanval of bedreiging moet gerig wees teen ‘n persoon (ongeag wie dit is), in
welke geval die gebruik van ‘n vuurwapen geregverdig is indien daar geen ander
manier is om die aanval of bedreiging af te weer nie.
(ii)
U mag ‘n vuurwapen gebruik slegs as die aanval onmiddellik dreigend of in
aanvang is. Dit beteken dat so ‘n aanval meer as net ‘n moontlikheid moet wees.
Vergelding is nie selfverdediging nie.
(iii)
U mag ook nie meer geweld gebruik as wat nodig is om die aanval te stop nie.
Sodra meer geweld gebruik word, word die beginsel van minimum geweld oorskry en
word die verdediger ‘n aanvaller.
(iv)
Die geweld wat gebruik word om ‘n aanval af te weer, mag slegs teen die
aanvaller(s) gerig word.
BEPALINGS VAN DIE VUURWAPENWET [WET OP BEHEER VAN
VUURWAPENS NO. 60 VAN 2000]:
1.) Vertoon van vuurwapen:
Art 84 handel met die dra van
vuurwapen in openbare plek.
Dit bepaal dat geen persoon’n
vuurwapen in ’n openbare plek mag dra nie tensy die vuurwapen gedra word—
(a) in die geval
van ’n handwapen—
(i) in ’n
pistoolsak of soortgelyke houer ontwerp, vervaardig of aangepas vir die dra van
’n handwapen en geheg aan sy of haar persoon; of
(ii) in ’n rugsak
of soortgelyke houer; of
(b) in die geval
van enige ander vuurwapen, in ’n houer ontwerp, vervaardig of aangepas vir die
dra van die vuurwapen. ’n Handwapen moet voorts in geheel bedek word en die
persoon wat die vuurwapen dra, moet doeltreffende beheer oor die vuurwapen kan
uitoefen.
2.) Rig van wapens:
Dit is volgens Art 120 ’n
misdryf om enige vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of ’n windgeweer, hetsy
dit gelaai is of in staat is om afgevuur te word, al dan nie, op enige ander
persoon te rig, sonder goeie rede om dit te doen.
LW:Dit is ook ’n misdryf om enigiets wat waarskynlik ’n
persoon kan laat glo dat dit ’n vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of ’n
windgeweer is, op enige ander persoon te rig, sonder goeie rede om dit te doen.
3.) Verandering van adres:
Art 25 van die Wet bepaal dat
die houer van ’n lisensie, permit of magtiging uitgereik ingevolge die wet moet
skriftelik kennis gee aan die Registrateur van enige verandering van sy of haar
fisiese of posadres binne 30 dae na so ’n verandering plaasgevind het.
4.) Art 29 handel met geskonde, verlore
of gesteelde lisensies, permitte en magtigings.
Indien ’n lisensie, permit of
magtiging uitgereik ingevolge die wet verlore raak of gesteel word, moet die
houer van die lisensie, permit of magtiging binne 24 uur van die ontdekking van
die verlies of diefstal die Registrateur van sodanige verlies of diefstal in
kennis stel. LW: Indien ’n lisensie, permit of magtiging geskend
word, verlore raak of gesteel word, moet die houer van die lisensie, permit of
magtiging binne sewe dae van die ontdekking van die skending, verlies of
diefstal in die voorgeskrewe vorm by die Registrateur aansoek doen om ’n
afskrif van die lisensie, permit of magtiging.
5.) Afvuur van wapen in beboude gebied:
Art 120 bepaal ook dat dit ’n
misdryf is om ’n vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of ’n windgeweer in ’n beboude
gebied of enige openbare plek af te vuur sonder goeie rede om dit te doen.
6.) Art 120 skep sekere ander spesifieke misdade:
Ons noem van die ter saaklike
misdade:
4.1
Enige persoon wat bewus is van die bestaan van ’n
vuurwapen of ammunisie wat nie in die wettige besit is van enige persoon nie,
en versuim om die ligging van die vuurwapen of ammunisie sonder vertraging aan
’n polisiebeampte te rapporteer, is skuldig aan ’n misdryf.
4.2
Dit is ’n misdryf om liggaamlike beserings aan enige
persoon te veroorsaak of om skade aan die eiendom van enige persoon te
veroorsaak deur ’n vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of windgeweer op nalatige
wyse te gebruik;
4.3
Dit is ’n misdryf om ’n vuurwapen, ’n antieke
vuurwapen of ’n windgeweer af te vuur of andersins te hanteer op ’n wyse wat
enige persoon waarskynlik sal beseer of die veiligheid of eiendom van enige
persoon waarskynlik in gevaar sal stel of met roekelose verontagsaming van die
veiligheid of eiendom van enige persoon;
4.4
Dit is ’n misdryf om beheer te hê oor ’n gelaaide
vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of ’n windgeweer onder omstandighede waar dit
’n risiko skep vir die veiligheid of eiendom van enige persoon en nie redelike
voorsorg te tref om die gevaar te vermy nie.
4.5
Dit is ’n misdryf om ’n vuurwapen, ’n antieke
vuurwapen of ’n windgeweer te hanteer terwyl onder die invloed van dwelms of
sterk drank.
4.6
’n Persoon is skuldig aan ’n misdryf indien hy of sy
beheer gee van ’n vuurwapen, ’n antieke vuurwapen of ’n windgeweer aan ’n
persoon wat hy of sy weet, of redelikerwys moes geweet het geestesongesteld is
of onder die invloed is van ’sterk drank of dwelms.
4.7
’n Persoon is skuldig aan ’n misdryf indien hy of sy
versuim om sy of haar vuurwapen of ’n vuurwapen in sy of haar besit in ’n
voorgeskrewe kluis, brandkamer of toestel vir veilige bewaring weg te sluit
wanneer sodanige vuurwapen nie aan sy of haar persoon gedra word nie of nie
onder sy of haar regstreekse beheer is nie; of om weens sy versuim om die vuurwapen weg te
sluit in die voorgeskrewe kluis, brandkamer of toestel vir die veilige bewaring
van ’n vuurwapen om nie die sleutels van sodanige kluis, brandkamer of toestel
in veilige bewaring te hou nie.
KL
KL
[1] Ons bespreek nie hier die Art 49-uitsonderings nie maar noem net dat
volgens hierdie artikel van die Strafproseswet voortvlugtendes ook straffeloos
gedood kan word maar om iemand in so ‘n geval te dood is moeilikheid soek en ‘n
mynveld van regsbeginsels waaroor selfs regsgeleerdes en regters verskil. In
kort kan Art 49 se werking soos volg uiteengesit word na aanleiding van ‘n uitspraak deur die
Grondwetlike Hof in die saak Ex Parte
Minister of Safety and Security: In re S v Walters. Die hof het bevind dat
die ou bewoording van art 49(2) van die Strafproseswet, 1977 (Wet No 51 van
1977) ongrondwetlik en dus nietig is. Die regsposisie het nou egter agv die
uitspraak van die Grondwetlike Hof, soos volg verander:
a) Die skiet van ‘n
verdagte om ‘n arrestasie uit te voer, is slegs in beperkte gevalle
toelaatbaar. Benewens die gevalle van selfverdediging hierbo genoem, kan die
persoon wat bevoeg is om ‘n arrestasie uit te voer ‘n verdagte onder die
volgende omstandighede skiet i) wanneer die verdagte ten opsigte van geweld ‘n
bedreiging vir die arresteerder of ‘n ander persoon inhou; of
ii) indien die verdagte op
redelike gronde daarvan verdink word dat hy ‘n misdaad gepleeg het waarby
geweld of die dreigement van geweld aanwesig was en daar geen ander redelike wyse
is om die arrestasie uit te voer nie, ongeag in daardie of ‘n later stadium;
iii) Onder geen omstandighede egter mag geskiet word om te dood slegs om die
arrestasie uit te voer nie. (Dit beteken dat skiet, bv na die bene, geoorloof
sal maar dat skiet om te dood na die aanval of bedreiging en slegs om te
arresteer, strafbaar sal wees.) Skiet om te dood deur ‘n voornemende
arresteerder sal regtens verskoonbaar wees slegs uit selfverdediging of ter
verdediging van ‘n ander persoon en natuurlik mits ‘n minder gewelddadige
metode nie onmiddellik beskikbaar was nie.
Jual Senapan Angin Gejluk Dual Power
ReplyDelete