Monday, October 25, 2010

DIE GOUE REëLS VAN PATROLLIE

Geagte vriende en Clydesdale GPF-lede,

Ons handel hier met ons pligte tydens patrollie en ons regte van deursoeking en arrestasie as privaatpersone. Die wetsaspekte word heel laaste bespreek.

INLEIDING:

Die volgende word ter inleiding gesê:
Dit is nodig om te besef dat ’n GPF-lid se hoofplig op patrollie nie misdaadondersoek is nie maar eerder: (a) observasie en (b) afskrikking d.m.v. sigbaarheid en getalle.

’n Gemeenskap Polisieëring Forum of Sub-forum (“GPF” of “CPF” in Engels) is nie ’n vigilante groep nie en ons moet asb. ander mense se regte en vryhede erken en beskerm.

GPF-lede is ook nie polisiereserviste nie en GPF-lede op patrollie het ook nie meer magte as gewone landsburgers nie.

Ons het ’n plig om toe te sien dat die SAP ons klagtes (misdade) ondersoek en nie onder die mat invee nie. Moet dus nie dat ’n lui polisiebeampte u ompraat om nie ’n klagte te lê nie.

DIE GOUE REëLS VAN PATROLLIE:
[Hierdie reëls is eintlik maar net reëls van gesonde verstand en goeie maniere.]

(a) Hanteer elke lid van die publiek soos wat uself hanteer wil word – met respek.

U is geregtig om enigeen op straat beleefd te vra of u hom kan help. (En hy is geregtig om vir u te ignoreer - dit is hoe ’n vrye demokrasie werk.)

As u iemand in die straat sien wat verdag is en/of moontlik hulp benodig stel ons voor dat hy vriendelik genader word en gevra word of u hom van hulp kan wees.

’n Verdagte wat 11h00 in die dag in ons strate loop en lyk of hy vir kwaadgeld rondloop kan soos volg benader word:
Goeie dag Meneer/Morena, Hier is baie diefstal in ons gebied. U sal verstaan dat as u hier 11h00 by huise loop en soek na werk terwyl almal alreeds by die werk is, verdag voorkom. Die mense in ons gebied is nie gemaklik daarmee nie. Bowendien staan almal wat stukwerk (“piece job”) soek by die Spar en loop nie in die woongebiede rond nie. Kan u asb die gebied verlaat.”
Ek sien dat u ’n groot sak daar by u het. Sal u omgee om vir my te wys wat daarin is?”

(b) U eie veiligheid kom eerste:

 As die situasie gevaarlik kan wees of as u twyfel oor u veiligheid roep asb. vir bystand. Altyd.
BAIE NB:- Dit is ons werkswyse hier by Clydesdale GPF om potensieële misdadigers af te skrik met getalle. Hoe meer bystand, hoe groter die magsvertoon en afskrikking, hoe effektiewer is ons en hoe veiliger is ons lede op patrollie.
 Wees liewer oorversigtig. As u twyfel of u bystand moet roep dan moet u dit doen. Onthou net, u GPF-patrolliebordjie is nie ’n koeëlvaste hemp nie.
 Sigbare getalle skrik misdadigers af.

(c) Hou ’n veilige afstand tussen uself en ’n verdagte wat dalk gevaarlik kan wees.
 Ons stel voor dat u nie ’n persoon of persone wat gevaarlik kan wees nader nie maar eerder ’n afstand van tussen 20-40m tussen mekaar hou tot tyd en wyl bystand opdaag.
 Om ’n afstand te hou het ’n sielkundige uitwerking op ’n gevaarlike verdagte: As hy bloot met ’n mes gewapen is sal hy u nie sommer storm nie en andersinds is u ook nog nie in sy veiligheidsone (spasie) waar hy bedreigd voel nie en sal hy u nie sommer aanval nie.
 Laastens gee dit vir u kans om ontwykende aksie te neem.
 Hou u voertuig asb. altyd gesluit.

Wenk:
(a) Moet nooit met iemand wat u wil aanrand tydens ’n plofbare situasie op die grond argumenteer nie. Deur te argumenteer daal u tot sy vlak. Loop weg en roep bystand. Groot GPF-getalle sal hom laat afkoel.
b) Moet ook nooit met ’n dwelmbenewelde argumenteer nie, hy/sy is nie in staat om logies te redeneer nie en kan enige tyd bisar en gevaarlik optree. Loop weg en roep bystand – veral van die polisie. Groot GPF-getalle en polisie teenwoordigheid sal hom/haar hopelik laat afkoel.

(d) Pasop vir Tsotsi’s.
 Tsotsi’s is gevaarlik en meesal (ten minste) met ’n Okapi-mes gewapen;
 Hulle is gewoonlik tussen 16-30 jaar oud;
 Hulle is fiks en lenig;
 Hulle is selde alleen;
 Hulle praat ’n snaakse slang (tipe Kwaito) en diegene wat Afrikaans magtig is sal u soms “My Lanie” noem;
 Meesal tatoeërmerke;
 Hulle het ‘n swaai in hulle stap;
 Hulle dra meesal netjiese klere maar mag ’n oorpak as deel van hulle vermomming dra;
Kyk na hulle skoene. Duur hardloopskoene is hulle gunsteling. Kyk na Nikes, Rheebok, Fila en wat nog. Hulle sal dit altyd dra – verslonsde oorpak of te not. Hierdie is belangrik: ’n man in die bg. ouderdomskategorie met ‘n verslonsde oorpak/klere maar “brand name”-skoene moet rooi gevaarligte laat flikker by u.
Pette, Musse en Donkerbrille:
Tsotsi’s hou daarvan om pette of musse te dra, veral ’n mus wat hy kan omskep in ’n balaclava. Hulle hou nie daarvan om jou in die oë te kyk nie. Hulle dra soms donkerbrille maar nie altyd nie.
Ouderdom:
Hulle is nog jonk - tussen 16-30 jaar oud.

(e) Vergesel mense uit die gebied uit:
 As u sien dat iemand in die nag deur ons gebied beweeg (ongeag sy ras) en u dink hy of sy kan dalk deur tsotsi’s aangeval word, vergesel (“escort”) hom of haar veilig uit die gebied uit of tot by sy bestemming.
 Ons durf nie toelaat dat die tsotsi’s onskuldige swartmense en nie-inwoners in ons gebied aanval nie, ons moet hul ook beskerm.
 Hou ’n afstand van 30m of meer tussen uself en die persoon.

(f) Huisbrekers is gevaarlik:
 Hulle is gewoonlik tsotsi’s;
 Hule is bykans altyd gewapen en is dus hoogs gevaarlik.
 Beskou elke huisbreker as iemand met ’n wapen en wat dit sal gebruik;
 Hulle sal meesal musse dra;
 Hulle het soms inbraak implimente soos skroewerdraaiers, bobbejaanspanners (om diefwering te breek), boltcutters en nie noodwendig crowbars nie maar iets wat soortgelyke funksie kan vervul.
 Hulle sal ’n klein outjie – selfs ’n kind – gebruik om by klein venstertjies in te gaan. So, ’n kind in hul teenwoordigheid dui eerder op verdagte optrede as op die teendeel.
 As u huisbraak of ’n huisroof vermoed moet u asb. dadelik bystand - ingeslote die polisie - ontbied.

 By huisbraak, kapings of huisroof tonele:o Moenie aan iets raak nie;
o Moenie rond beweeg nie, u voetspore kan die toneel kontamineer;
o Stel vas of SAP reeds ontbied is – indien nie, is dit ‘n prioriteit;
o Gee ’n lys van moontlike getuies aan die polisie wat na u opdaag;
o Stel vas wie het iets verdag gesien – verdagte voertuie se besonderhede moet onmiddellik oor die lug verskaf word;
o Kry beskrywings van rowers/inbrekers indien moontlik. Gee dit oor die lug;
o Neem foto’s met u selfoon sonder om rond te trap – anders los dit;
o Stel vas wie is die mense se sekuriteitsmaatskappy;
o Is daar bouwerke in die omgewing? Kry naam van kontrakteurs en neem foto’s van hul naamborde as u kan;
o Het die mense enige komposverkopers/smouse in die omgewing gesien?
o Het die mense tuindienste? Indien wel, wie?
o Het hulle onlangs ’n nuwe tuinier of bediende gekry?
o Rapporteer al bogenoemde en relevante inligting aan die persoon belas met die voorvalle boek (VB).


(g) Die mees senior of ervare lid neem altyd bevel van ’n situasie of toneel:
 Waar nodig neem die mees senior of ervare lid wat bystand kom verleen bevel oor van die toneel en lede moet dit asb as standaard praktyk aanvaar, dis in belang van almal. (Gemelde senior/ervare lid vra self raad en bystand by ons leiers as hy/sy vasbrand);
 Die mees senior/ervare lid op die toneel moet probeer voorkom dat forensiese getuienis soos vingerfadrukke, voetspore of bloedspatsels gekontamineer word deur lede of ander privaat persone wat onnodig rondbeweeg;
 Moet nooit ’n verdagte terugneem na die misdaadtoneel nie want hy sal beweer dat dit op daardie stadium gebeur het dat sy vingerafdrukke op die toneel gekom het. (Hou hom dus altyd buite die perseel - indien moontlik);
 Die polisie word gekontak as dit nie reeds gedoen is nie;
 Radio kontak word gehou met Beheer. (Beheer = mees senior persoon wat nie op toneel is nie met ‘n sterk radio of die War Room as dit beman is);
 Almal bly kalm - slegs die mees senior lid en/of lid met meeste kennis van die situasie mag op die radio praat;
 Vermy onnodige gepratery op radio. Die kanale moet skoon wees;
 Mees senior lid besluit of Kanaal 6 ook gebruik moet word en hoe dit gedoen gaan word. Hy kondig sy reëlings op die radio af;
 Kanaal 6 is ’n handige kanaal om te gebruik eerder as om situasie oor en oor op Werkskanaal 4 te verduidelik;
 Die mees senior lid besluit of dit nodig is om foto’s te neem of laat neem van die toneel en probeer dit doen of laat doen sonder om ander te agiteer of toneel te kontamineer. (Foto’s is belangrike bewysmateriaal. Neem liefs te veel as te min foto’s. Gebruik u selfoon.);
 In verdere nood word lede gemagtig om te onderbreek deur “Breek! Breek!” op die radio te roep. Almal bly stil en gee gemelde lid kans om die nood of dringendheid te verduidelik.

(h) Interaksie met die SAP op ’n toneel:
 Die polisie of metro neem bevel van die toneel na hulle aankoms;
 Versoek asb die naam van die SAP lid in bevel op die toneel en maak ’n nota daarvan;
 Die mees senior lid gee ’n geskrewe lys met name en kontaknommers van alle GPF-lede en privaat persone wat iets op die toneel of naby die toneel waargeneem het of wat getuies kan wees. [Hiervan moet asb nooit afgewyk word nie.];
 Dring altyd aan op ’n SAP saaknommer. (Dit begin met die letters MAS of CAS en is gewoonlik iets soos die volgende: MAS 102/08/2011 - waar die laaste twee kolomme die maand en jaartal verteenwoordig.)
Moenie dat ’n lui polisiebeampte uself of die klaer/slagoffer ompraat of boelie om nie ’n klagte te lê nie. (Hulle doen dit soms wel. Kontak u GPF-Beheer of die GPF-leiers dadelik as dit sou gebeur);

(i) Vermy enige kontak met bloed en moenie beseerdes verskuif nie
 Waar mense bebloed of beseer is moet u asb. probeer om kontak met bloed te vermy deur gebruik te maak van rubberhandskoene of derglike items;
 Kontak die nooddienste op u selfoon deur 112 of 147 te skakel;
 Moet asb nooit ’n beseerde skuif of sy valhelm verwyder tensy dit absoluut nodig is nie. Nekbeserings kan vererger word;
 Los noodhulp vir kundiges tensy uself ’n kundige is of tensy dit absoluut noodsaaklik is.

(j) U moet asb u amptelike patrollie-bordjies op u voertuig aanbring tydens patrollie.
 Lede moet asb. nie sonder hulle bordjies patrolleer nie;
 Hou asb u GPF-identiteitskaartjie in u patrollievoertuig;
 Lede mag nie snags sonder ligte patrolleer nie;
 Gebruik van enige ander ligte behalwe ’n witlig skietlamp (“spot light”) is onwettig;
 Lede moet altyd hulle radio’s op patrollie saamneem;
 Ons beveel ten sterkste aan dat u ook u selfoon saamneem;
 Ons beveel aan dat u ook ’n GPF-bordjie agter op die voertuig aanbring;
 As u nie bystand van ons lede kry nie, bel die SAP op die selfoonnommers van die diens/patrollie voertuie (sektor voertuie), daarna eers 10111;
 Ons beveel ten sterkste aan dat u ook ‘n passasier saamneem maar dis nie verpligtend nie.
 Ons kan nie lede verbied om snags hulle eie wapens saam te neem nie maar dit mag nooit, ooit onwettig gebruik word of vertoon word nie. Onthou asb. dat dit ’n misdaad is om ’n vuurwapen sonder wettige gronde in ’n woongebied af te vuur.
NB: Dit mag soms nodig wees om wel u GPF bordjies af te haal. As u dink dat die vertoon van u bordjies ’n gevaarsituasie kan skep deur bv gewapende rowers se aandag op u te vestig dan moet u u bordjies asb dadelik verwyder.

(k) Geen aanrandings mag ooit gepleeg word nie:
 Daar sal streng opgetree word teen GPF-lede wat ander lede van die gemeenskap aanrand.
 Aanranding en rassisme word ten sterkste afgekeur en skep ’n verleentheid vir ander wetsgehoorsame lede.
 Onwettige optrede kan veroorsaak dat wetsgehoorsame lede uit die GPF bedank. Ons kan dit nie toelaat nie.

ALGEMEEN:
Ons moet beklemtoon dat wat patrollies, algemene arres en deursoeking aanbetref dit in aanmerking geneem moet word dat:
 ons nie wetstoepassers is nie;
 ons eerder ons hoofsaaklik moet beperk to observasie en afskrikking (sigbaarheid en getalle);
 ons nie ons eie veiligheid in gevaar moet stel nie;
 ons veiligheid lê in getalle en dat lede nie moet huiwer om bystand (SAP en ander GPF-lede) te roep waar dit nodig is om iemand te arresteer nie. (Hoe meer hulp, hoe beter.)
 ’n “citizen’s arrest” is ’n ernstige inbreukmaking op ’n ander se menseregte soos vryheid en privaatheid en as dit ongegrond gedoen word ernstige gevolge en siviele eise tot gevolg kan hê. Iemand wat egter so pas by ’n huis ingebreek het kan arresteer word. Maar onthou asb dat daar ’n groot verskil is tussen huisbraak en betreding. Blote teenwoordigheid op ’n oop perseel sonder enige inbraak of oopbreek van ’n struktuur is nie huisbraak nie.


WETLIKE ASPEKTE:


A. DEURSOEKING:
Niemand het die reg om ons of ’n familielid van ons voor te keer en voor die voet te deursoek nie. Hoe sal ons voel as iemand dit met ons of ons dierbares doen? ’n Lid van ’n GPF mag dit dus ook nie doen nie.

Aan die ander kant, menseregte is nie onbeperk nie, dit is nie absoluut nie, lede van die polisie en privaat persone kan wel ander persone deursoek op sekere gronde of in sekere omstandighede.

’n Woord van waarskuwing word hier gerig: Om ’n ander se vryheid te ontneem of sy reg op privaatheid te skend is ernstig as dit onwettig gedoen word. (Art 28 van die Strafproseswet, 1977 maak dit ’n misdaad om ’n ander se persoon of sy perseel onwettig te deursoek.)

Dit word beklemtoon dat ’n GPF-lid se hoofplig op patrollie nie misdaadondersoek is nie.

Wanneer kan ’n GPF-lid ’n ander persoon wettiglik deursoek?

(a) Die gemenereg:

(i) Toestemming:
Volgens die gemenereg kan ons te eniger tyd ’n ander se persoon met sy toestemming deursoek. As ’n GPF-lid op patrollie dus iemand (of sy perseel) wil deursoek mag dit net met toestemming geskied of in omstandighede deur die Strafproseswet erken, gedoen word. Onthou egter dat ’n man se huis of sy kaja in die oë van die reg sy eie privaat koningkryk is en dat daardie reg baie duur beskerm word. (Dit is reg en goed dat dit so is.)

Wees uiters versigtig om ’n ander se perseel te betree, hy kan selfs onskuldiglik op u skiet as hy meen dat ’n indringer is.

Ons beveel aan dat u slegs in hoogs uitsonderlike gevalle persele betree maar as ’n reël liefs nooit nie, dit is net moeilikheid soek al het u die beste bedoelings op aarde. (Bv. om die huiseienaar te sê sy hek of garagedeur is oop. Dalk wag hy hoogs gespanne, senuagtig en gewapen vir die inbreker en sien u vir ’n inbreker aan.)

(ii) Welvoeglikheid:

’n Man kan nie ’n vrou deursoek en andersom nie, want deursoeking moet welvoeglik geskied. Enige onwelvoeglike optrede is onwettig al word dit deur mense van dieselfde geslag gedoen. Selfs deursoeking ingevolge die Strafproseswet moet welvoeglik wees.

Hardhandige optrede kan onses insiens as onwelvoeglik beskou word maar is in ieder geval onwettig.

(b) Die Strafproseswet, 1977

Die Strafproseswet magtig wel privaat deursoeking en arrestasie van andere in sekere beperkte omstandighede. ’n Privaat persoon kan slegs ’n ander deursoek wat arresteer is vir ’n sg. “Bylae 1” misdaad. Bylae 1 misdade is baie ernstige misdade soos moord, verkragting, huisbraak, roof, diefstal en bedrog.

Art 23 bepaal dat in die geval van ’n sg. “citizen’s arrest” kan die persoon wat die inhegtenisneming uitvoer ’n voorwerp wat omskryf word in Art 20 in beslag neem wat in die besit of in die bewaring of onder die beheer van die gearresteerde persoon is, en moet so ’n voorwerp onverwyld aan ’n polisiebeampte oorhandig.

‘n Art 20-bedoelde voorwerp is enige voorwerp wat betrokke is by of op redelike gronde vermoed word betrokke te wees by die pleging of vermeende pleging van ’n misdryf of wat tot bewys kan strek van die pleging of vermeende pleging van ’n misdryf of wat bestem is of op redelike gronde vermoed word bestem te wees om by die pleging van ’n misdryf gebruik te word.

Dwelmmiddels, huisbraak- of motorbraak instrumente en wapens asook gesteelde items is voorbeelde van sulke items.

B. ARRESTASIE:

Dit is ’n privaatpersoon se demokratiese reg om ander wat sekere ernstige misdrywe pleeg te arresteer en/of te deursoek.

Dit is wat in die volksmond bekend staan as “citizen’s arrest”.

Volgens Art 42 van die Strafproseswet kan ’n private persoon (ook GPF-lid op patrollie) iemand sonder lasbrief in hegtenis neem—

(a) wat ’n Bylae 1 bedoelde misdryf in sy teenwoordigheid pleeg of poog te pleeg of wat hy redelikerwys verdink dat hy so ’n misdryf gepleeg het;

(b) wat hy redelikerwys vermoed ’n misdryf gepleeg het en aan die vlug is van en onmiddellik agtervolg word deur iemand wat bedoelde private persoon redelikerwys meen die bevoegdheid besit om daardie persoon weens daardie misdryf in hegtenis te neem;

(c) wat hy kragtens ’n wet bevoeg is om ten opsigte van ’n in daardie wet bepaalde misdryf sonder lasbrief in hegtenis te neem;

(d) wat hy aan die baklei sien.

’n Private persoon (GPF-lid) wat iemand soos bo genoem in hegtenis mag neem, kan daardie persoon onverwyld agtervolg, en ’n ander private persoon aan wie die doel van die agtervolging bekend gemaak is, kan daarby aansluit en hulp verleen.

Wat is ’n Bylae 1 misdaad?
 Moord,
 Poging tot moord (maar nie gewone aanranding nie);
 Verkragting,
 Roof (ook voertuig kaping),
 Huisbraak,
 Dwelmhandel;
 Diefstal,
 Bedrog, ens.

Dit is dus net ernstige misdade. (Die lys hierbo is nie heeltemal volledig nie)

U moet asb nie mense probeer arresteer vir die volgende nie:
 Besit van dagga;
 Betreding (sonder om in te breek);
 Dronkbestuur;
 Huismoles;
 Gewone (ligte) aannranding;
 Dronkenskap;
 Verkeersoortredings;
 Vloekery;
 Enige ander geringe oortredings.
(Roep in bg. gevalle die hulp in van die SAP of die Metro Polisie om die arrestasie te doen.)

Hoe word ‘n persoon arresteer?

’n Arrestasie is ‘n formele handeling. ‘n Verdagte word arresteer deur hom fisies aan die skouer aan te raak en mee te deel dat hy ‘n arresteer word. Hy moet ook meegedeel word op watter aanklag hy arresteer word.
Dit is al.
Dis nie nodig om 'n gearresteerde te boei nie maar hy mag geboei word as hy gevaarlik is.
‘n Gearresteerde word vir praktiese doeleindes onmidellik na die Polisiestasie geneem of aan die SAP oorhandig. Skakel dadelik die sektorvoertuie en/of 10111 sowel as GPF-beheer as u iemand arresteer het.


Hulp aan Polisielede:
Laastens is daar ’n ander interessante bepaling in die Strafproseswet:
Art 47 bepaal dat elke manlike inwoner wat nie jonger as sestien en nie ouer as sestig jaar is nie, moet, wanneer hy deur ’n polisiebeampte aangesê word om dit te doen, so ’n polisiebeampte behulpsaam wees met die inhegtenisneming van ’n persoon of met die aanhouding van so ’n gearresteerde persoon.

Dit bepaal ook dat iemand wat sonder voldoende rede in gebreke bly om ’n polisiebeampte behulpsaam te wees aan ’n misdryf skuldig is en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete van hoogstens R300 of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens drie maande.

Die Polisie se riglyne is egter dat hulle nie wil hê ons moet polisie optredes soos padblokkades saam met hulle lede beman nie. Ons stem daarmee saam.

Ons verwys u ook na ons gedragskode wat deel vorm van Die Clydesdale GPF Grondwet. (Daar is ook ’n kode wat geld t.ov. die gebruik van ons radio’s.)

Ons hoop dat bogaande vir u van nut kan wees.

Ons beklemtoon net laastens dat, behalwe vir die regsaspekte, wat hierin gesê word riglyne is en waar nodig kan daarvan afgewyk word. Gesonde verstand en diskresie moet aan die dag gelê word.

GPF groete en sëenwense,

No comments:

Post a Comment