Monday, July 19, 2010

Deursoeking en Arrestasie ("Citizen's arrest")

Geagte Inwoners en CPF lede,

Ons wil vandag praat oor ons regte van deursoeking en arrestasie as privaatpersone.
Hierdie is ons tweede belangrike inligtingstuk.

Dit is egter eerstens nodig om onsself te herinner wat ‘n Gemeenskap Polisiëring Forum is.

Wat presies is Gemeenskapspolisiëring?

Gemeenskapspolisiëring (“Community Policing”) en ‘n Gemeenskap Polisiëring Forum (“Community Police Forum’) wat ek hierna geriefshalwe sal afkort as ‘n “CPF” is statutêr erkende strukture van die polisie. (Dit word gereël deur Hoofsuk 7 van die polisie Wet, 1995.)

Gemeenskapspolisiëring is ‘n beleid en strategie wat:
 meer effektiewe misdaadbekamping in die hand werk;

 mense se vrese rakende misdaad besweer of verminder vanweë ’n gevoel van bemagting en betrokkenheid,

 beter polisiëring verseker omdat dit die gemeenskap en die polisie nader na mekaar bring en die gemeenskap laat besef dat hulle die polisie se oë en ore kan wees in hulle woongebiede.

 kommunikasie kanale tussen die gemeenskap en die polisie skep – iets wat nooit te vore bestaan het nie.

 die polisie ook meer verantwoordbaar teenoor die publiek maak en die polisie en die gemeenskap in staat stel om nouer saam te werk.


’n CPF is nie ’n vigilante groep nie en moet mense se regte beskerm en erken.


DEURSOEKING

CPF-lede is nie polisiereserviste nie.

Niemand het die reg om my of ’n familielid van my voor te keer en voor die voet te deursoek nie. Hoe sal jy voel as iemand dit met jou doen? ’n Lid van ’n CPF mag dit ook nie doen nie.

Maar, menseregte is nie onbeperk nie, dit is nie absoluut nie, lede van die polisie en privaat persone kan wel ander persone deursoek op sekere gronde of in sekere omstandighede.

Dit is ’n privaatpersoon se demokratiese reg om ander te arresteer en of te deursoek. Dit word wêreldwyd ’n “citizen’s arrest” genoem.

’n Woord van waarskuwing word egter gerig: Om ’n ander se vryheid te ontneem of sy reg op privaatheid te skend is ernstig as dit onwettig gedoen word. Art 28 van die Strafproseswet, 1977 maak dit ’n misdaad om ’n ander se persoon of sy perseel onwettig te deursoek.

Ten tweede is dit nodig om te besef dat ’n CPF-lid se plig op patrollie nie misdaadondersoek is nie maar observasie.

Wanneer kan ’n CPF-lid ’n ander persoon wettiglik deursoek?

(a) Die gemenereg:


(i) Toestemming:
Volgens die gemenreg kan jy te eniger tyd ’n ander se persoon met sy toestemming deursoek. As ’n CPF-lid dus iemand (of sy perseel) wil deursoek mag dit net met toestemming geskied of in omstandighede deur die Strafproseswet erken, gedoen word. Onthou egter dat ’n man se huis of sy kaja in die oë van die reg sy eie privaat koningkryk is en dat daardie reg baie duur beskerm word. (Dit is reg so.)

(ii) Welvoeglikheid:

’n Man kan nie ’n vrou deursoek en andersom nie, want deursoeking moet welvoeglik geskied. Enige onwelvoeglike optrede is onwettig al word dit deur mense van dieselfde geslag gedoen. Selfs deursoeking ingevolge die Strafproseswet moet welvoeglik wees.

Hardhandige optrede kan myns insiens as onwelvoeglik beskou word.


(b) Die Strafproseswet, 1977

Die Strafproseswet magtig wel privaat deursoeking en arrestasie van andere in sekere beperkte omstandighede. ’n Privaat persoon kan slegs ’n ander deursoek wat arresteer is vir ’n sg. “Bylae 1” misdaad. Bylae 1 misdade is baie ernstige misdade soos moord, verkragting, huisbraak, roof, diefstal en bedrog.

Art 23 bepaal dat in die geval van ’n sg citizen’s arrest kan die persoon wat die inhegtenisneming uitvoer ’n voorwerp wat omskryf word in Art 20 in beslag neem wat in die besit of in die bewaring of onder die beheer van die gearresteerde persoon is, en moet so ’n voorwerp onverwyld aan ’n polisiebeampte oorhandig.

‘n Art 20 bedoelde voorwerp is enige voorwerp wat betrokke is by of op redelike gronde vermoed word betrokke te wees by die pleging of vermeende pleging van ’n misdryf of wat tot bewys kan strek van die pleging of vermeende pleging van ’n misdryf of wat bestem is of op redelike gronde vermoed word bestem te wees om by die pleging van ’n misdryf gebruik te word.

Dwelmmiddels, huisbraak- of motorbraak instrumente en wapens is voorbeelde van sulke items.

ARRESTASIE:

Dit is nou wat in die volksmond bekend staan as “citizens arrest”.

Volgens Art 42 kan ’n private persoon iemand sonder lasbrief in hegtenis neem—

(a) wat ’n in Bylae 1 bedoelde misdryf in sy teenwoordigheid pleeg of poog te pleeg of wat hy redelikerwys verdink dat hy so ’n misdryf gepleeg het;

(b) wat hy redelikerwys vermoed ’n misdryf gepleeg het en aan die vlug is van en onmiddellik agtervolg word deur iemand wat bedoelde private persoon redelikerwys meen die bevoegdheid besit om daardie persoon weens daardie misdryf in hegtenis te neem;

(c) wat hy kragtens ’n wet bevoeg is om ten opsigte van ’n in daardie wet bepaalde misdryf sonder lasbrief in hegtenis te neem;

(d) wat hy aan die baklei sien.

’n Private persoon wat iemand soos bo genoem in hegtenis mag neem, kan daardie persoon onverwyld agtervolg, en ’n ander private persoon aan wie die doel van die agtervolging bekend gemaak is, kan daarby aansluit en hulp verleen.

Laastens is daar ’n ander interessante bepaling in die Strafproseswet:

Art 47 bepaal dat elke manlike inwoner wat nie jonger as sestien en nie ouer as sestig jaar is nie, moet, wanneer hy deur ’n polisiebeampte aangesê word om dit te doen, so ’n polisiebeampte behulpsaam wees met die inhegtenisneming van ’n persoon of met die aanhouding van so ’n gearresteerde persoon.

Dit bepaal ook dat iemand wat sonder voldoende rede in gebreke bly om ’n polisiebeampte behulpsaam te wees aan ’n misdryf skuldig is en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete van hoogstens R300 of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens drie maande.

Ons moet egter beklemtoon dat wat bogaande aanbetref dit in aanmerking geneem moet word dat:

 ons nie wetstoepassers is nie;

 ons eerder ons moet beperk to observasie;

 ons nie ons veiligheid in gevaar moet stel nie;

 ’n “citizens arrest” ’n ernstige inbreuk maak op ’n ander se menseregte soos vryheid en privaatheid en as dit ongegrond gedoen word ernstige reperkussies en siviele eise tot gevolg kan hê.


CPF groete en sëenwense,

Kobus 14

No comments:

Post a Comment